Verbeter jou veld só

*Soos gepubliseer in Landbouweekblad - 'n September uitgawe

 

Wat word bedoel met die term rehabilitasie en watter velde moet gerehabiliteer word? Die term rehabilitasie laat my dadelik dink aan veld verbetering en dit is hoe ons dit moet sien nl. die verbetering van versteurde veld of altans weiding wat lei tot beter produktiwiteit en wins per hektaar.

 

Natuurlike veld kan versteur word deur verskillende faktore, soos oorbeweiding, veldbrande en selfs onderbenutting. In Suid Afrika is oorbeweiding gewoonlik die grootste sondebok en in die Savanna bioom lei dit gewoonlik tot die indringing van bosse. Die ekosisteem word versteur wat lei tot ‘n wanbalans en die geleentheid vir bome en bosse om te domineer. Veld versteuring kan in enige veldtipe plaasvind. As die ekosisteem versteur word, is daar ‘n wanbalans en gaan daar ‘n spesie verandering voorkom. Met die weiding kwaliteit wat verswak kom daar meer ongewensde gras spesies voor, en dus verlaag die veld se drakrag wat vir die boer ‘n laer wins per hektaar gee. Om versteurde veld te rehabiliteer is daar nie ‘n goue middeweg nie.  Elke rehabilitasie is anders aangesien daar verskeie faktore is wat ‘n invloed het nl.  reënval, grondtipe, topografie, ligging, asook die tipe diere  wat daar voorkom.

 

Daar is ‘n paar verskillende veld rehabilitasie en verbeterings metodes, afhangend van die huidige veld toestand. Dit sluit hoofsaaklik verbeterde weidingsbestuur, ontbossing, grond bewerking asook die hervestiging van gewenste gras spesies in. ‘n Kombinasie  van die bogenoemde lei gewoonlik tot die vinnigste veld herstel. Om ‘n natuurlike weidings oor te saai verskil van area tot area. Barenbrug benader die proses op ‘n area-spesifieke manier en lê klem op die natuurlike grasse wat in die area voorkom. Dit is baie belangrik aangesien hierdie grasse by die plaaslike klimaat en grond aangepas is. Suksesvolle vestiging van plaaslik aangepaste gras spesies verskaf optimale produksie vir maksimum wins. Grasse wat in ‘n rehabilitasie mengsel gebruik word moet nie net by die plaaslike omgewingstoestande aangepas wees nie, maar moet ook bestaan uit verskillende spesies met verskillende funksies. ‘n Tipiese mengsel bestaan uit swak en sterk meerjarige grasse, en soms ook ‘n eenjarige gewas wat kan dien as ‘n “pleeg-gewas” Hierdie gewas help meerjarige grasse om te vestig deur beskerming te bied teen die warm Afrika son. Die eenjarige gewas word normaalweg ook eerste bewei en bied daardeur die meerjarige grasse, wat langer vat om te vestig, ‘n beter kans op oorlewing. ‘n Monokultuur aanplantings is ook ‘n opsie as die boer opsoek is na ‘n spesifieke spesie en ‘n spesifieke doel het, hetsy sny en baal of bewei. Dit kan ook die dominerende spesies in die area wees as gevolg van grond tipe of reënval, maar wat as gevolg van selektiewe beweiding verdwyn het of skaars geraak het.

 

Plant metode,  planttyd en grond voorbereiding is die belangrikste aspek vir suksesvolle veld verbetering. Grassaad moet nie te diep geplant word nie, hetsy dit met ‘n planter is of gestrooi word. Die kontak tussen die saad en grond is uiters belangrik daarom moet ’n goeie, ferm saadbed voorberei word. Dit kan ons regkry deur ‘n rol aksie te gebruik nadat die saad gestrooi of geplant is. Baie areas is wel onbekombaar met trekkers, wat grond voorbereiding baie moeilik maak. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg en alhoewel dit baie arbeid intensief is, kan mens met die hand ook strooi. Uit vorige ervarings het ons geleer dat saad gemeng kan word met grond of kompos, voor dit met die hand gestrooi word. Dit help om die regte hoeveelheid saad per hektaar neer te sit asook die saad-grond kontak te verbeter. Die heel belangrikste vir ‘n suksesvolle vestiging is om op die regte tyd te plant. Elke area se reënval verskil, maar in die Noorde van die land se somerreënval streek kan ons met veiligheid sê dat ons beste reëntyd vanaf November tot Maart is. Die geheim is om nie oorhaastig te wees nie. Plant eerder as die grond profiel vol vog is en as ons meer verseker is van opvolg reën. Mens wil nie al die moeite doen om die saad in die grond te kry en dan net 5mm se reën kry sodat saad ontkiem en dan is daar ‘n droogte vir 2 maande nie, daai saailinge gaan dit nie maak nie. 

Die hoofdoel van veld verbetering is om ons drakrag en wins per hektaar te verhoog. Ongelukkig is daar nie kortpaaie as dit by die proses kom nie. As al die regte stappe geneem word sal dit lei tot ‘n suksesvolle veld rehabilitasie. 

 

Navrae: Abel Nell, +27 (0)71 164 6496; ahgnell@barenbrugsa.co.za  |  Frits van Oudtshoorn, +27 (0)78 228 0008; frits@alut.co.za

 

Suksesverhaal.

Die 2020 Seisoen was ‘n uitstekende jaar om weiding te vestig. Dit was die geval by mnr Jaco Nel ‘n wildboer op  sy nuwe plaas Mirabile net buite Thabazimbi in Limpopo. Die plaas was heeltemal oorbewei en bosse het oorgeneem. Vir die wat nie vertroud is met die area nie, dis ‘n moeilike bergagtige wêreld met baie klippe, wat nie ideale plant omstandighede is nie. Die eerste stap was om al die wild van die plaas te verwyder om die rehabilitasie die beste moontlike kans te gee op sukses. ‘n Kombinasie van inheemse grasse, wat aangepas is in die area, is gebruik in ‘n mengsel. Die enigste oplossing was om met die hand te saai. Daarom het ons ‘n baie hoë saaidigtheid gebruik om saailinge die beste kans op oorlewing te gee. Saad was met kompos gemeng om addisionele voeding toe te dien. Soos die ontbossing span takke gesny het, is dit bo-op die saad en kompos mengsel geplaas vir beskerming. Die groot geluk van die suksesverhaal is, dat dit ‘n besonderse jaar met bo gemiddelde reënval was. Alles het perfek uitgewerk en met genoeg reën het ons vinnige ontkieming gekry. Die foto’s wys die enorme transformasie. Die plaas kan nou weer winsgewend bestuur word met genoeg weiding vir hul wild.