Trek só voordeel uit dekgewasse in jou boorde

Die produksie oppervlak van boordgewasse soos neute, sitrus, steenvrugte, bessies en kiwi’s is sonder twyfel aan die toeneem in ons land. Die gunstige uitvoermarkte is ‘n groot dryf agter hierdie oplewing en ons sien selfs dat weidings- en groente oppervlaktes omskep word na kommersiële boorde. Boordboerdery kan ‘n winsgewende praktyk wees indien dit intensief bestuur word, maar opbrengste kan beperk word deur stres kondisies en toestande waar die gewasse hul energie en hulpbronne moet gebruik vir oorlewing in plaas van vrugteproduksie. Vog stremming, wisselende grondtemperature, probleme met bestuiwing, peste en onkruid is voorbeelde van faktore wat ‘n nadelige impak op produksie kan hê.

 

Die goeie nuus is dat dekgewasse wel oor tyd bewys dat dit oplossings kan bied vir baie van hierdie probleme.

 

‘n Dekgewas kan enige plant wees wat aangeplant word vir die beskerming en verryking van grond, wat sodoende kommersiële gewasse bevoordeel. Dit kan met tyd ‘n positiewe impak hê op die verbetering van grondvrugbaarheid, waterhou vermoë, onkruidbestuur, asook die bekamping van gronderosie, algemene siektes en plae.

 

‘n Groot bydraende faktor tot die menigte voordele wat dekgewasse bied, is die verhoging van biodiversiteit. Biodiversiteit bo en onder die grond skep ‘n geskikte habitat vir insekte en ander grond organismes. Dit dra ook by tot verhoogte koolstof- en stikstof vlakke wat waterhouvermoë en grondvrugbaarheid bevorder. Die bogrondse groen materiaal dien as ‘n sambreel vir die grondoppervlak wat die grond kan beskerm teen temperatuur wisseling, erosie en evaporasie. Daar is ook ‘n hele paar gewasse wat in kombinasie geplant kan word om bye te voed en predatoriese insekte soos Lieweheersbesies (Ladybug) te lok wat voed op nadelige insekte soos blaaspootjies.

 

Insetkostes kan dus oor tyd beperk word met doelgerigte bestuur van dekgewasse om te verseker dat boorde meer winsgewend word.

Ek wil graag ‘n paar kombinasies deel wat my in praktyk beïndruk het. In ‘n Macadamia boord het ‘n meerjarige somer mengsel, wat bestaan uit wit buffelgras, klein buffelgras, rhodes gras, lusern en rolklawer, ‘n groot verskil gemaak. Die mengsel was in die werksrye geplant en die materiaal wat gesny is was direk onder die bome gestrooi. In die proses was die grondoppervlak bedek, wat gelei het tot minder onkruiddruk op die boomrye. Daar was ook genoem dat meer peste tussen die dekgewasse voorgekom het en minder in die bome, wat natuurlik bydra tot minder en goedkoper chemiese intervensie.

 

(Die goeie bedekking wat verplaasde dekgewas materiaal kan verskaf op boomrye.)

 

Nog ‘n suksesvolle meerjarige mengsel is ‘n kombinasie van RTF, ‘n turf tipe, swenkgras en Durana wit klawer (sien foto 1). Die twee gewasse het ‘n lae groeiwyse wat makliker bestuur, kan skaduwee goed hanteer, en het ook die vermoë om boord temperature oor die warm somermaande te verlaag met 2-3°C. Nog ‘n voordeel van hierdie lae onderhoud mengsel is dat dit min gesny hoef te word, wat arbeid en brandstof kostes verlaag. Hou wel ingedagte dat hierdie tipe mengsel nie groot volumes materiaal produseer wat na die boomry geskuif kan word nie.

 

Aan die eenjarige kant is daar vele winter- en somer spesies beskikbaar. My voorstel is altyd om ‘n kombinasie van grasse, peulgewasse en knolle te oorweeg. Gras tipes dra grootliks by tot die biomassa wat die grond bedek om vog te bewaar en onkruid te onderdruk. Peulgewasse bind stikstof in jou grond wat beide die bome en opvolg dekgewasse bevoordeel. Knolgewasse, soos radys en knolraap, wat silindriese knolle vorm in die grond is ideaal om kompaksie te verminder.

 

Die bogenoemde voorbeelde van mengsels is net ‘n hulpmiddel om te verstaan hoe om oor dekgewasse te begin dink. Dit gaan steeds ‘n leerproses wees om uit te vind wat werk die beste op jou plaas aangesien kondisies baie varieer ten opsigte van grond, klimaat en beperkings. Die grootste stap is egter net om te begin, jy moet besef dat dit ‘n langtermyn projek is.

 

Ongelukkig is daar nie ‘n mengsel wat al jou probleme gaan oplos nie, so prioritiseer wat jy wil bereik en werk daarvolgens ‘n program uit.

 

 

 

Jean-Alex Swart

Tegniese Bestuurder vir Barenbrug, Oos- en Suid-Kaap