"Intercropping" in kontant gewasse

 

Die plant van ‘n metgesel dekgewas terselfdertyd as wat ‘n kontantgewas op ‘n land groei was net ‘n paar jaar terug nog ‘n verregaande idee. ‘n Paar boere van Mpumalanga het dit egter voluit aangepak en implementeer dit nou baie suksesvol in hul saai- en vee boerderye.

 

Die beginsel rus daarop dat deur die regte kombinasie van dekgewasse, op die regte tyd tussen mielies te plant, dit ‘n netto positiewe effek op die oes, grond en boerdery sal hê. Verskillende praktyke word gebruik, en met die regte tydsberekening kan almal suksesvol toegepas word.

 

Nuwe tegnologie soos spesialis planters en hommeltuie maak dit deesdae maklik om dekgewasse tussen mielies te vestig. Wanneer ‘n planter gebruik word moet die boer reeds vroeg inkom, tydens die V4 tot V6 stadium, nadat onkruid beheer is. Deur die dekgewasse op die regte diepte te plant kan ‘n groter verskeidenheid van spesies in die mengsel gebruik word. Die dekgewasse ontkiem vinnig, vestig wortels, en bedek die oppervlakte tussen die rye. Daarna sal die mielies dit oorskadu, sodat die dekgewas in ‘n “rus periode” gaan. Die dekgewas sal later die seisoen weer begin wikkel, wanneer die mielies se blare begin uitdroog en sonlig deurlaat.

 

Wanneer die uitstrooi metode gebruik word kan jy langer wag voor jy die dekgewasse vestig. Hoogloopspuite met elektriese strooiers en vliegtuie word dikwels hiervoor gebruik. Die venster periode is gewoonlik tussen laat somer en vroeg herfs, afhangend van die area en klimaat. Omdat die saad nou bo-op die grond moet ontkiem is gewas keuse meer beperk, maar spesies met kleiner sade doen normaalweg goed. Beskikbare vog en voorspelling van nog reën moet in berekening gebring word wanneer besluite geneem word.

Wintergewasse word hoofsaaklik gebruik in hierdie mengsels, omdat dit in staat is om laat vog goed te benut nadat die mielie deur is. Dit help om vog te bestuur en sodoende in die lande te kan kom om te stroop. Dieselfde dekgewasse verskaf dan vir veeboere uitstekende groenvoer gedurende die winter, en die diere wei dit saam met die reste. Die kombinasie maak ‘n uitstekende rantsoen om jong diere op uit te groei, of om koeie deur die winter te vat en kondisie te behou sonder teveel ander insette.

 

Onthou om voor mielie planttyd jou lande te oormerk vir tussenverbouing (“intercropping”) en jou spuitprogram aan te pas waar nodig. Nat lande wat sukkel om af te droog is natuurlik die beste plek om te begin en daar sal die grootste voordele gesien word. As jy suksesvol tussenverbouing wil toepas moet jy die volgende in ag neem: ry spasiëring en plant populasie van mielies, spuitprogram (voor- en na-opkoms), vestiging metode van dekgewas (plant of strooi), toegang tot lande gedurende die reën seisoen asook onkruid druk van verskillende lande. Saad moet ook vroegtydig bestel word, aangesien die gewasse oor die algemeen vroeër as hul normale vensters geplant word.

 

Deur dekgewasse tussen mielies te vestig kan die voordele van diversiteit en grondgesondheid behaal word, terwyl jy steeds graan produseer en ‘n addisionele inkomste uit vee produksie verdien op dieselfde hektare. Hier word meestal na mielies verwys, maar dit is ook moontlik om tussenverbouing in ander kontant gewasse soos sonneblom, sojabone, koring en canola  toe te pas.

 

Suksesvolle tussenverbouing in gevestigde mielies. Dekgewasse wat floreer nadat mielies geoes is en dit meer sonlig deurlaat.

 

 

Skakel jou naaste Barenbrug teenwoordiger om meer uit te vind hoe jy tussenverbouing winsgewend en doeltreffend op jou plaas kan toepas.

Navrae: Mnr. Freddie Steyn is ‘n agent vir Barenbrug. E-Pos: fred.steyn@gmail.com, +27 (0)82 469 3328