'Gratis stikstof’ – die onderskatte waarde van peulgewasse

Peulgewasse kan boere se insetkoste verminder, terwyl hulle hul opbrengs, weidinggehalte en volhoubaarheid verbeter.

 

Stikstof (N) is ’n sleutelvoedingstof en noodsaaklik vir gesonde plantegroei. Weens intensiewe landboupraktyke het grond dikwels ’n tekort daaraan. Stikstof is, ironies genoeg, volop in die aarde se atmosfeer en beset ongeveer 78% van die lug wat ons inasem, maar plante kan dit ongelukkig nie direk benut nie. Daar is egter drie prosesse waardeur stikstof beskikbaar gestel word aan plante, naamlik weerlig, kunsmatig en biologies.

 

KUNSMATIGE STIKSTOF

Die produk van kunsmatige vervaardiging is anorganiese stikstof, wat gereeld gebruik word as bemesting in verskeie vorme. Hierdie metode is gewoonlik energie-intensief, duur en nie volhoubaar nie. Wanneer dit in oormaat toegedien word, kan dit besoedeling veroorsaak wat tot grondversuring en eutrofikasie lei.

 

’N UITSTEKENDE STAND

Arvika-voererte met Mobyvoergars by Tulbagh in die Wes-Kaap, wat as ’n vroeë hoëgehalteweiding benut is.

FOTO’S: VERSKAF

Goeie nodulering op ’n bitter lupien se wortels.

 

BIOLOGIESE STIKSTOF

Biologiese stikstofbinding vind plaas via ’n simbiotiese verhou­ding tussen Rhizobium-bak­terieë en peulgewasse, asook deur sommige vrylewende organismes. Dit is belangrik om peulgewasse deel van die rotasiestelsel te maak omdat dit organiese stikstof bind. Dit is veral noodsaaklik indien ’n kontantpeulgewas, soos lupiene of sojabone, nie reeds deel van die rotasiestelsel is nie. Met die hoë stikstofpryse deesdae en die nadelige uitwer­king van oorbemesting is peul­gewasse toenemend aanloklik. Peulgewasse bied ook verskeie ander voordele, soos die geleentheid om die proteïenin­houd van ’n mengsel te verhoog indien dit deur vee benut word.  Daar is baie faktore wat die hoeveelheid stikstof wat peulge­wasse bind, beïnvloed. Dit sluit in noduleligging, entfrekwensie, Rhizobium-stam, grond-pH, grondtemperatuur, grondvog en die stikstofvlakke. Daar is wel soms natuurlike Rhizobium in die grond teenwoordig wat peul­gewasse noduleer, maar dit bind gewoonlik baie minder stikstof.

 

Natuurlike Rhizobium is geneig om meer op sekondêre wortels te noduleer. Wanneer ’n boer egter die saad met entstof behandel, kom nodulering ge­woonlik op die primêre wortel voor, wat tot beter stikstofbin­ding lei. Indien die boer mak­simaal stikstof wil bind, is dit ’n goeie idee om met nuwe en doeltreffender Rhizobium-stam­me te inokuleer. Studies bewys dat stikstofbin­ding direk gekorreleer is met ’n peulgewas se droëmateriaal- (DM) produksie. Daarom is een van die belangrikste faktore die prestasie van die peulgewasse in die omstandighede waar dit geplant word. Dit lê klem op die belangrikheid van gewasselek­sie, spesifiek vir die grond, ge­bied en bestuurspraktyke.Peulgewasse se DM bevat tipies 1,5-4% N. Indien dit weens swak nodulering min­der as 1,5% N bevat, verskaf die peulgewas baie min of geen plantbeskikbare stik-stof (PBS) wanneer dit ontbind. Met goeie nodulering, danksy die regte Rhizobium, kan DM 3-4% N bevat, wat normaalweg lei tot 30-45 kg/ha PBS. Om dit in perspektief te stel, kan dit omgeskakel word na R1 350- R2 025/ton DM of R5 400- R8 100/ha vir 4 ton DM/ha, gegrond op die huidige stikstof­prys van R45/kg (KAN). Meerjarige peulgewasse bind in die algemeen meer stikstof as eenjariges omdat dit vir ’n langer tydperk teenwoordig is en sodoende in staat is tot hoër DM-opbrengste.

 

 

’n Boer moet egter onthou dat die hoeveelheid stikstof wat ge­bind word, minder is wanneer dit in mengsels met nie-stikstof­bindende gewasse groei, of in­dien dit net op ’n fraksie van die oppervlak gevestig word. Die beskikbaarheid van ge­binde stikstof vir opvolggewasse verlaag ook indien die peulge­was se biomassa van die perseel verwyder word, aangesien die bogrondse groei die meeste van die stikstof bevat. Nie-peulgewasse, soos grane en koolgewasse, bind nie stik­stof nie, maar dien wel as gewas­se wat voedingstowwe myn en dit na die bogrond bring. Daar­om ontstaan die vraag dikwels of en wanneer gebinde stikstof vir nie-peulgewasse beskikbaar gestel word. Daar is drie maniere waar­op stikstof oorgedra word na nie-peulgewasse, naamlik ont­binding, worteluitskeiding en mycorrhizae. Stikstof word be­skikbaar gestel deur ontbinding van mis, plantreste en wortelafsterwing. Ongeveer 60-95% van stikstof wat vee inneem, word weer na die grond gesirku­leer, waarvan 70% via urine is. Dit wys hoe belangrik dit is om peulgewasse, waar moont­lik, te laat bewei sodat die mis en urine van die stikstof na die grond kan hersirkuleer.

 

Stikstof word ook vrygestel deur worteluitskeiding, wat be­teken dat daar wel daarvan in die grond “uitlek” vir nie-peulgewasse, maar dit is ’n fraksie van die totale hoeveelheid. Ty­dens ontbinding word die mees­te van die PBS binne vier weke vanaf terminering vrygestel, mits nodulering goed was en die DM meer as 1,5% N bevat. Daar is verskeie peulgewas­se beskikbaar om van te kies. Laat die grondtipe, doel en struikelblokke jou tydens die seleksieproses lei om te bepaal watter peulgewasse jy deel van jou rotasiestelsel kan maak (sien tabel). Die voorstel is steeds om ’n landboukundige te nader sodat die boer seker is hy kies die regte peulgewasse om soveel moont­lik “gratis stikstof” te bind.

 

NAVRAE: Mnr. Ivan Jansen van Rensburg is ’n tegniese bemarker by Barenbrug. E-pos: ijvr@barenbrug. co.za, 082 301 5934.